Groenland het ’n pragtige storie te vertel, oor ’n glasie heerlike wyn!

Kosie en Piet Sreenkamp geniet 'n glasie van Groenland se vlagskipwyn.

Van my lekkerste en kosbaarste wynervarings is besoeke aan minder bekende en minder kommersiële wynprodusente. Minder bekend omdat mens selde indien ooit iets van hulle in die media lees en minder kommersieel omdat mens selde indien ooit advertensies van hulle sien. Ek kry dan die kans om lekker wyn te proe en rustig met die eienaar en/of wynmaker self te gesels, en dikwels gaan daai gesprekke oor baie meer as die lekker wyne wat ons proe.

Dit gaan oor die storie agter die storie, en dan besef ek weer eens hoeveel stories daar in die wynlande opgesluit lê, stories wat uit die volksmond verdwyn omdat dit nie geboekstaaf word vir die nageslagte nie. Daar is tallose staaltjies wat mens laat skaterlag en dan is daar stories wat aan die hartsnare pluk en die traankliere vrye teuels gee.

Maar voordat ek op loop gaan met die wynlande se stories, ek het verlede jaar per toeval van Groenland te hore gekom toe ek ’n persvrystelling oor hul jongste vlagskipwyn, die Steenkamp 2013, ontvang het. Die wyn is geskep om Kosie Steenkamp te eer, die man wat Groenland op die kaart geplaas het, by wyse van spreke. Ek het gaan google en tot my skok agter gekom hierdie landgoed is in die Bottelary-heuwels buite Stellenbosch geleë en geslagte lank al in die naam van eers die Fischers, toe die Kriels en vandag die Steenkamps. En almal is familie, skoon en gewoon!

Ek moes eenvoudig net daar ’n draai gaan maak, wyn proe en gesels! Ek en Piet Steenkamp, die tweede geslag Steenkamp op Groenland, het via vonkpos kennis gemaak en sommer die nodige afspraak ook.

LINKS: Die verwelkomende ingang na Groenland.

Wanneer mens van die teerpad afdraai en deur Groenland se hek die skadubedekte oase van groen binnery – dis bome, struike en gras net waar jy kyk – begin jy al binnensmonds kwyl in afwagting op wat wag, en jy weet dit gaan nie net lekker wyn wees nie!

REGS: Tafelberg op die agtergrond soos gesien van Groenland af en die windpomp van die Landskap-reeks regs.

Om ’n lang storie kort te maak, ek het eers vir Piet ontmoet en toe sy pa, Kosie. Ons drie is na die proelokaal wat voorheen ‘n wateropgaardam was. Dis glo in hierdie dam waar Kosie se vrou en Piet se ma, Heléne, as kind leer swem het! Die muur spog reg rondom met al die toekennings wat Groenland se wyne oor die jare heen ingepalm het ... en toe weet ek, hier hoef ek nie te proe en oordeel nie want elke wyn gaan ’n regmerkie verdien.

En so tussen die heerlike wittes en die rooies deur het ek en Kosie en Piet aan die gesels geraak. Kosie het vertel dat Groenland oorspronklik deel van die veel groter Klein Bottelary-plaas was. Hy’t in Februarie 1975 amptelik hier begin boer nadat hy die plaas by sy skoonma gekoop het (“’n Man kan mos nie vir sy skoonma of vrou boer nie!”) en vandag is Groenland in die hande van die vyfde geslag, maar nie almal met dieselfde familienaam nie.

LINKS: Die chenin blanc-wingerd wat al byna vier dekades lank diens doen op Groenland.

Sien, dit werk so: eers was daar twee geslagte Fischer, toe trou Kosie se skoonma, ’n nooi Fischer, met ’n Kriel, wat toe die derde geslag van die familie (deur sy vrou) op die plaas geword het. Kosie trou toe met hul dogter, Heléne, en koop toe die plaas. En vandag is hulle seun, Piet, die vyfde geslag op die plaas, maar die tweede geslag Steenkamp.

In 1999 het Kosie ’n naburige plaas, Friesland, aangeskaf en nou het hulle altesaam 156 hektaar onder wingerd het.

Kyk, as jou kop nou draai en jou ore sing, skink vir jou ’n glas Groenland-wyn en ontspan! En gepraat van wyn, Groenland het sowat 110 hektaar onder rooi wyndruiwe en 44 onder wit kultivars. Die rooies bestaan uit cabernet sauvignon, shiraz, pinotage en merlot, terwyl chardonnay, sauvignon blanc en chenin blanc die wittes is. Die jaarlikse produksie is tussen 1 400 tot 1 500 ton.


BO: Groenland se heerlike wynreeks bied iets vir elke smaak.

Die wyne word in drie reekse bemark. Die Landskap-reeks is gemik op suiwer genot en weerspieël Kosie se liefde vir die natuur en sy Karoo-erfenis, daarom die windpomp op die etiket! Dit bestaan uit ’n rooi versnit en ’n Chenin Blanc. Die volgende reeks is die ernstiger klassieke wynreeks wat uit 3 rooies en ’n witte bestaan. Heelbo is die premie-wynreeks wat uit 4 rooiwyne bestaan, 3 enkelkultivarwyne en ’n versnit. En dan’s daar die vlagskip wat ter ere van Kosie geskep is, die Steenkamp 2013, ’n versnit van cabernet sauvignon en merlot.

As jy na al die toekennings kyk wat Groenland al vir sy wyne ontvang het, kan jy met reg verwag dat die pryse dit gaan weerspieël, maar dan kyk jy na die pryslys en jy voel of jy in die twilight zone is! Sulke lekker wyn behoort heelwat duurder te wees, maar Groenland se wyne begin by ’n skamele R39 en R40 vir onderskeidelik die Landskap Chenin Blanc 2017 en Landskap Shiraz/Merlot 2016 en eindig by ’n baie beskeie R285 vir die Steenkamp 2013. Die duurste van die klassieke reeks-wyne is maar R68 (en spog met ’n rits toekennings!), terwyl die duurste wyn in die premie-reeks jou slegs R140 uit die sak sal jaag. Puik gehalte en waarde vir geld in een handelsmerk vasgevang!

Maar waar kom die naam vandaan? “Groenland kry sy naam van die groen graanlande wat destyds die heuwels hier in die Bottelary-streek bedek het,” vertel Kosie.

En wanneer het die wynstorie begin? “Ons eerste oesjaar was in 1997,”verduidelik hy, “maar aanvanklik is net grootmaatwyn gemaak en verkoop. Ons eerste gebottelde wyn was van die 1999-oesjaar, en dis in Holland bekend gestel. Plaaslik is ons eerste wyn in die bottel eers in 2003 bekend gestel.”

Vandag moet ’n boer en wynmaker amper meer van ’n sakeman en bestuurder wees om sukses te behaal in ’n hoogs mededingende mark, en Piet se graad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch is dus ’n groot bonus.


BO: Die proekamer met al Groenland se toekennings teen die muur.

“Ek het van die wingerd en die kelder op die harde manier geleer,” verduideklik hy, ”en ek is ver van klaar geleer af. Ek het ’n jaar by Distell deurgebring en toe ’n pars in Kalifornië meegemaak. My eerste oesjaar op Groenland was in 2001, en elke oesjaar sedertdien het my iets by geleer van wynmaak. Wyn is in meer as een opsig ’n reis, nie net vir die wynliefhebber nie, maar ook vir die wynmaker. Jy weet nooit alles nie.”

Piet kan natuurlik ook by sy pa kers opsteek. Hoewel Kosie, self ’n oud-Matie, nooit wynkunde gestudeer het nie, het hy uitstekende leermeesters gehad by KWV en die ou Distillers-korporasie. En vir ’n man wat op ’n Karoo-plaas groot geword het, en vandag steeds een besit “omdat jy nooit die Karoo uit my hart en siel sal kry nie”, is boerdery deel van die DNA.

“Dit was ’n kwessie van sink of swem, maar harde werk en my hande vuil maak, was nog nooit ’n probleem nie, en ek het deeglik gekyk en geluister en geleer,” vertel Kosie.

Wel, as daar enige twyfel oor Kosie, Piet en Groenland se wyne bestaan, gaan kyk maar net na daai rits toekennings. Dit spreek boekdele! En as jy skepties is en nog twyfel, proe die wyne!

Vir enige navrae of meer inligting, skakel 021 903 8203 of stuur ’n epos aan steenkamp@groenland.co.za, of besoek www.groenland.co.za.

EINDE