Kul die winter met Hartenberg se heilsame kos

Sop en brood uit 'n plaaskombuis, en wyn uit 'n bekroonde kelder!

Met die winter wat sy yskoue greep op alles en almal versterk, nooi die Hartenberg-wynlandgoed buite Stellenbosch alle kos- en wynliefhebbers uit om die snerpende koue te kul met smaaklike en heilsame kos en uitmuntende wyn in die geselskap van ’n knetterende kaggelvuur.

Die heilsame kos wat op hierdie bekende landgoed in familiebesit in die Bottelary-heuwels op besoekers wag, spreek van egtheid en passie. Elke bord kos wat uit die landgoed se plaaskombuis kom, is die gevolg van die filosofie van oorlede Eleanor Finlayson wat daarin geglo het om mense te bemagtig, en huldig daardie filosofie. Hartenberg se gulhartige soppe bring elke winter warmte na die harte en siele van gaste. Vanjaar sluit die aanbiedings die immergewilde ertjie- en gerookte hamsop in, asook ’n ryk en geurige hoendersop, ’n aartappel- en preisop (voeg krakerige spek by vir ’n vleiserigheid) en ’n heerlike sop van jong murgpampoentjies. Elke sop word met vars gebakte plaasbrood bedien.

As gulhartige sop en vars plaasbrood nie voldoende vir die aptyt is nie, kan daar gekies word uit ’n keur van wintergeïnspireerde opsies wat ook die winterkoue sal hokslaan. Die Vintners Platter (heel onder), byvoorbeeld, is perfek om gedeel te word en sluit Eleanor se bekende, gerookte snoekpatee, charcuterie en kaas in, asook crudités, piekels, olywe en vars brood. En dan’s daar natuurlik ook Hartenberg se bekende hamburger (onder) wat uit ’n sappige, tuisgemaakte frikkadel met cheddarkaas en spek bo-op bestaan. Dit word met aartappelskyfies bedien.


Daar is selfs ’n “banting”-opsie! Die broodrolletjie en aartappelskyfies word vervang met murgpampoenkoekie en seisoenale slaai.

Die slaai van geroosterde wintergroente bestaan uit ’n keur van seisoenale groente met parmesan-skaafsels en is die ideale vegetariese opsie.

Maar geen ete is volmaak sonder gepaardgaande wyn nie, en hier is daar te kies en te keur uit Hartenberg se portefeulje. Die landgoed se volronde rooiwyne - insluitende die bekroonde The Stork Shiraz, Cabernet Sauvignon en Merlot – is die ideale metgeselle vir enige wintergereg. Of kies uit die The Eleanor Chardonnay, Sauvignon Blanc of Riesling as wit jou voorkeur is.

Sluit dus gerus hierdie winter by Hartenberg aan en klink ’n glas (of meer) op goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap!

Voorafbespreking is noodsaaklik aangesien sitplek beperk is. Middagetes word van Maandag tot Saterdag bedien vanaf 12:00 tot 15:00. Om te bespreek, kontak die landgoed op 021 865 2541 of info@hartenbergestate.com.

EINDE