De Krans slaan drie platinum-toekennings los op jongste SAWi Awards!

Louis van der Riet met een van die platinum-toekennings.

De Krans, die bekroonde wynmakery by Calitzdorp, het weer eens sy posisie as een van Suid-Afrika se voorste portprodusente bevestig deur nie minder nie as drie platinum-toekennings los te slaan op die 2017- South African Wine Index (SAWi) Awards. Hierdie jongste lofbetuigings is toegeken aan De Krans se Cape Vintage Reserve, Cape Tawny en Touriga Nacional.

Die South African Wine Index is in 2009 gestig met die doel om op ’n onafhanklike wyse Suid-Afrika se beste wyne te identifiseer. Die kompetisie se unieke algorithm of excellence word gebruik om die prestasie van individuele wyne oor veelvuldige oesjare te meet en te vergelyk, en voeg die uitslae van meer as 100 multi-nasionale kompetisies, oorsigte en inskrywings saam, asook enige bykomende lofbetuigings, om uiteindelik ’n telling uit 100 toe te ken.

SAWi se uitslae is gebaseer op die kollektiewe wysheid, kundigheid en ervaring van kenners in die wynbedryf, sowel as prominente rolspelers, en bied aan wynliefhebbers ’n akkurate maatstaf van volhoubare wyngehalte oor drie tot tien jaar.

Vroeër vanjaar is De Krans se Cape Vintage Reserve en Touriga Nacional lof toegeswaai op die National Wine Challenge/Top 100 SA Wines-kompetisie waar albei ’n plek op die gesogte Top 100 SA Wines-lys verdien het, asook dubbele platinum-toekennings.

Die De Krans Touriga Nacional word gemaak van druiwe wat op die landgoed self verbou word en die wyn is vir 12 maande lank in Franse eikehoutvate verouder. Die wyn het ’n diep, donker kleur en spog met intense geure van swartbessies, viooltjies en speserye. Louis van der Riet, De Krans se wynmaker, beveel aan dat hierdie rooiwyn met sappige volstruisfilet of enige wildsvleisdis voorgesit word.

De Krans se Cape Vintage Reserve is van verskeie Portugese kultivars gemaak en het 22 maande lank in vate deurgebring voor dit bottel toe is. Volgens Louis sal hierdie uitmuntende dessertwyn sy volle potensiaal na nog 20 of 30 jaar bereik. Dit het ’n donker rooi kleur en stel heerlike aromas van viooltjies, rooi bessies, vanielje en donker sjokolade in die neus vry. Die mond word begroet deur uitlokkende geure van rooi vrugte, gedroogde pruimedante en kakao. Geniet hierdie gefortifiseerde wyn op sy eie of met gebakte nagereg, of kombineer dit met ’n sous om saam met nagereg geniet te word. Dit kombineer ook puik met verouderde kase.

Louis beskryf die De Krans Cape Tawny as ’n wyn met ’n pragtige lemoen-saffierkleur met delikate aromas van lemoenskil, karamel, neute en toffie. Hierdie geure word na die mond deurgedra, met die bykomende verrassing van vrugtekoekgeure. Dis die ideale portwyn om op sy eie te geniet, of geniet dit saam met ’n tuisgebakte winterpoeding.

Vir meer inligting, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE