Hartenberg se 2015- Merlot getuig van ’n buitengewone oesjaar

Getuienis van 'n puik oesjaar!

Die 2015-oes word deur die wynbedryf as buitengewoon goed beskou en die Hartenberg-landgoed se jongste aanbieding, die Hartenberg Merlot 2015, getuig daarvan.

As die sukses van vorige oesjaarwyne op sowel die plaaslike as internasionale toneel enige aanduiding is, gaan die 2015- Merlot ook groot indruk maak. Vorige lofbetuigings sluit “Beste Merlot in die Wêreld” op die International Wine & Spirit Competition (IWSC) van 2008 in, asook goue medaljes op die 2013- Veritas-kompetisie en die 2014- Concours Mondial De Bruxelles.

Hartenberg se 2015- Merlot “ontplof” in die neus met aromas van donker pruime, kersies, viooltjies en ster-anys. In die mond stel die wyn sy elegante persoonlikheid bekend, van voor tot agter, en eindig met ’n talmende, fluweelagtige nasmaak. Dis ’n volronde rooiwyn met heerlike vrugtegeure en sweempies speserye en eikehout. Die wyn is vir 19 maande in Franse eikehoutvate verouder.

Carl Schultz, Hartenberg se keldermeester, beveel aan dat wynliefhebbers hierdie Merlot op sy eie geniet of met ligter disse soos panko-gekrummelde vark met mosterdroom. Dit werk ook puik met geroosterde tamatiepasta aangesien die geure van die wyn en kos mekaar uitstekend komplementeer om die perfekte harmonie te skep. Hoewel die wyn nou reeds reg is om geniet te word, sal dit baat by nog minstens 10 jaar se veroudering.

Die Hartenberg Merlot 2015 is direk by die proelokaal beskikbaar teen R175 per bottel, asook landwyd by uitgesoekte drankhandelaars.

Vir meer inligting, besoek www.hartenbergestate.com.

EINDE