Riesling wys twee van sy edel gesigte!

Twee van die edel gesigte van riesling.

Hoewel riesling in sy “tuisland”, Duitsland, en elders van krag tot krag gaan, is hierdie edel en verfynde kultivar in Suid-Afrika soos die spreekwoordelike profeet wat nie in sy eie land geëer word nie.

Riesling se aromatiese subtiliteit, lewendige asiditeit en puik verouderingspotensiaal behoort van hom ’n uiters gewilde wyn te maak, en tog word hy stief behandel deur wynliefhebbers sowel as wynmakers ongeag die feit dat dié kultivar maklik in ’n verskeidenheid style omskep kan word. Dit is juis hierdie kultivar se vermoë om hoë suikervlakke te ontwikkel terwyl dit sy asiditeit behou wat hom in staat stel om wyne te skep wat baie goed verouder, en wyne skep van droog tot soet.

Wat riesling se stief behandeling in Suid-Afrika verder onverstaanbaar en ironies maak, is die feit dat Duitse rieslings elders die soort bekendheid, gewildheid en aanvaarding geniet wat normaalweg met klassieke Franse wyne geassosieer word.

Ek’s ’n rasieleier vir riesling sedert ek baie jare gelede die eerste keer met Theuniskraal se Cape Riesling (eintlik ’n crouchen blanc) kennis gemaak het. Ek het altyd ’n paar bottels van hierdie droë witwyn by die huis en is nog nooit teleur gestel nie.

Hierdie witte het my jare later geïnspireer om riesling verder te verken en sedertdien maak ek by elke geleentheid voorspraak daarvoor. Onlangs het my wynreis van ontdekking my weer eens op Hartenberg laat beland, en nodeloos om te sê, ek’s daar weg met ’n gemengde kissie van hul rieslings, waaronder die uitmuntende Tenacity Riesling van die 2011-oesjaar.

’n Ruk later het vriende wat sowel kos- as wynkenners is by ons kom kuier en ’n bottel Bergsig Riesling Late Harvest 2013 saamgebring.

Laat ek met die Hartenberg Tenacity Riesling afskop. Hierdie bekende landgoed buite Stellenbosch se eerste riesling is in 1984 bekend gestel en sy wyne van hierdie kultivar het sedertdien gewild geword onder “Hartenbergers”. Die karakter van Hartenberg se rieslings word gedryf deur die mark se vraag na effe-droog of “halbtrocken” wyn.

Die 2011- Tenacity Riesling het ’n ressuiker van 3,6g/? wat hom droog eerder as effe-droog maak ... maar ek kla nie! Die wyn is ryk en vol in die mond. Verder waarsku subtiele geure van pynappel en kamferfoelie, ondersteun deur sitrus, dat dit verslawend kan raak! Die dopkontak aanvanklik, houtveroudering in ouer vate en moerkontak daarna dra by tot ’n wyn wat jy nie kan ignoreer nie. Die houtkomponent is nie oordoen nie en goed geïntegreer om tot die wyn se puik struktuur by te dra. Dis ’n baie veelsydige wyn met ’n GROOT karakter wat te alle tye iets te knibbel verwelkom.


Hierdie indrukwekkende wyn het ’n groot verskeidenheid kosmaats. Sy ryk, vrugtige karakter beteken dat selfs geuriger disse goed by hom sal pas. Dink aan Thai-speserye en rou en/of gaar Japanse geregte.

Wat die laatoes-weergawe betref, na afloop van ’n tradisionele vleisbraai wat voorafgegaan is met die “tradisionele” sjampanje waarmee ons vriende enige en alle sosiale geleenthede afskop, en vele bottels uitmuntende rooiwyn, het Mark die bottel Bergsig Riesling Late Harvest vorendag gebring. Dit was my eerste kennismaking met ’n laatoeswyn van hierdie kultivar ... en ek’s nie teleur gestel nie.

Hierdie Late Harvest is semi-soet met ’n ressuiker van 23,2 g/? (aansienlik laer as byvoorbeeld dié van ’n edel-laatoeswyn) en toon puik balans in die mond. Dit spog met ’n prominente vrugtekarakter van aromatiese appel, perske en peer vermeng met heuning en speserye in die neus. Hierdie eienskappe vind weerklank in die mond, met onderliggende sitrus, en die wyn het ’n sagte, heuningagtige einde. Dis die perfekte encore vir ’n heerlike samesyn met goeie vriende!

Net so terloops, soet riesling het ’n interessante storie. Die legende word toegeskryf aan Schloss Johannisberg in die Rheingau wat “per ongeluk” hul eerste “Spatlese” of laatoeswyn in 1775 geskep het. Die boodskapper met die amptelike opdrag om te begin druiwe pluk, is volgens die legende onderweg beroof. Teen die tyd dat hy by Schloss Johannisberg aangekom het, was die druiwe reeds vrot en met botrytis besmet en aan die landbewoners gegee. Hulle het hul eie wyn daarvan gemaak ... en die res is geskiedenis.

Riesling is sonder twyfel een van die mees edele van alle witwynkultivars, maar ongelukkig kry dit nie altyd die soort erkenning soos byvoorbeeld chardonnay of sauvignon blanc nie. En dis jammer want dit verdien om in dieselfde geselskap gereken te word. Watter ander witwyn kan so goed verouder ... en net altyd sy beste voet voorsit?

EINDE