Drie wynterreine lewer vele nasionale wenners op 12de SA Terroir-wyntoekennings

Tariro Masayiti en Hildegard Witbooi (Springfontein), Lucy Richardson (Novare Equity Partners) en Lizette Stander (Bergsig).

Suid-Afrika se eie wyntrots, pinotage, het kop en skouers bo die res uitgetroon op die twaalfde Novare SA Terroir-wyntoekennings en as top presteerder uit die stryd getree.

Die Springfontein-landgoed tussen Hermanus en Stanford in die Walker Bay-distrik het die nasionale wenner, die Springfontein Limestone Rocks Gadda da Vida 2013 – ’n pinotage, opgelewer, asook die nasionale rooi versnit-wenner, die Springfontein Limestone Rocks Whole Lotta Love 2014, waarvan pinotage deel uitmaak, dus ’n Cape Blend.

Albei hierdie nasionale wenners (pinotage en Cape Blend) tel ook onder Suid-Afrika se top 5-landgoedwyne. Springfontein was ook die wenner van slegs die tweede Novare-trofee vir Suid-Afrika se top enkelwingerdwyn, ook ’n pinotage, die Springfontein Jonathan’s Ridge Pinotage 2013.

Nóg ‘n top presteerder by die 2017- Novare SA Terroir-wyntoekennings was Lourensford buite Somerset-Wes. Drie van die landgoed se wyne is aangewys as nasionale wenners, naamlik die Lourensford Limited Release Merlot 2015, Lourensford Limited Release Viognier 2016 en Lourensford Limited Release Noble Late Harvest 2014 (natuurlike soetwyn). Laasgenoemde is die wyn wat die hoogste gemiddelde puntetelling van al die inskrywings vir vanjaar se kompetisie behaal het, en dit is ook aangewys as een van Suid-Afrika se top 5-landgoedwyne.

Bergsig in die Breedekloof het vanjaar weer duidelik hul wynterrein se gehalte na vore gebring deur vir die tweede jaar agtereenvolgens die Novare-trofee vir Suid-Afrika se top wynlandgoed en die Novare-trofee vir Suid-Afrika se top terroir-produsent te ontvang. Dit nadat die landgoed tien wyne ingeskryf het waarvan nege bogemiddelde punte van die beoordelaars ontvang het. Bergsig het twee nasionale wenners ingeskryf, die Bergsig Cabernet Sauvignon Reserve 2013 en Bergsig Touriga Nacional 2013. Die Bergsig Cabernet Sauvignon Reserve 2013 is ook aangewys as een van die top 5-landgoedwyne.


Die nasionale wenners:

Voor- Hildegard Witbooi, Lizette Stander, Tariro Masayiti, Alessandro Nel, Quentin Gobregts.

Middel - Lisha Nelson, Adre Rheerder, Margaux Nel, Danie Steytler, Sjaak Nelson,  Morne McGear.

Agter - Braam Gericke, Boela Gerber, Rudi von Waltsleben, Waldo Kelerman, Newald Marais, Christo Pienaar.

Die Cederberg-kelder was weer eens een van die top presteerders met twee nasionale wenners, een uit hul wynterrein in die Cederberg en een uit hul wynterrein in Elim. Hulle is die Cederberg Blanc de Blancs Brut 2012 (top vonkelwyn) en Ghost Corner Semillon 2015. Groot Constantia by Kaapstad het vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar ’n nasionale wenner gehad, die Groot Constantia Gouverneurs White 2015, ’n wit versnit.

Suid-Afrika se top 5-landgoedwyne is aangewys op grond van die hoogste gemiddelde puntetellings. Hulle is die Bergsig Cabernet Sauvignon Reserve 2013, Lisha Nelson Cabernet Franc 2014, Lourensford Ltd Release Noble Late Harvest 2014, Springfontein Limestone Rocks Gadda da Vida 2013 en Springfontein Limestone Rocks Whole Lotta Love 2014.

Die 2017- Novare SA Terroir-wyntoekennings se nasionale wenners is:

Lourensford Limited Release Merlot 2015,

Lourensford Limited Release Viognier 2016,

Lourensford Ltd Release Noble Late Harvest 2014,

Cederberg Blanc de Blancs Brut 2012,

Ghost Corner Semillon 2015,

Groot Constantia Gouverneurs White 2015,

Kaapzicht 1947 Chenin Blanc 2016,

D’Aria The Songbird Sauvignon Blanc 2016,

Jordan Nine Yards Chardonnay 2015,

Oak Valley Groendlandberg Pinot Noir 2016,

Kranskop Tannat 2014,

Ondine Grenache 2015,

Diemersfontein Carpe Diem Malbec Reserve 2015,

Bergsig Touriga Nacional 2013,

Bergsig Cabernet Sauvignon Reserve 2013,

Lisha Nelson Cabernet Franc 2014,

Springfontein Limestone Rocks GDV Pinotage 2013,

Springfontein Limestone Rocks Whole Lotta Love 2014,

Wildekrans Shiraz Barrel Select Reserve 2014,

Boplaas Cape Vintage 2014 en

Nuy Rooi Muskadel 2010.

Benewens die nasionale wenners, top 5-landgoedwyne en die Novare-trofeë word die beste wyne in die verskillende areas ook aangewys. Die volledige uitslae is beskikbaar op die webwerf www.terroirwineToekennings.co.za.

EINDE