Gabriëlskloof se nuwe rooiwyn-trio vertoon die Overberg se uiteenlopende terroir

Die Landscape Series se Cabernet Franc.

Gabriëlskloof, die bekende wyn- en olyflandgoed naby Botrivier in die Overberg, het pas drie rooiwyne bekend gestel wat deel vorm van hul Landscape Series, ’n versameling uitstekende wyne wat die essensie van hul wingerde en wynmaak-filosofie verteenwoordig.

Die Landscape Series, wat verlede jaar met twee witwyne geloods is, bestaan uit vyf wyne wat die klem plaas op Gabriëlskloof se natuurlike erfenis. Die etikette huldig die elemente wat die wyne uniek maak en is deur die kunstenaar, Niël Jonker, wat bekend is vir sy landskapskilderye, ontwerp.

Elke wyn word met so min inmenging moontlik gemaak om ’n ware weerspieëling van die terroir te wees. Die resultaat is ’n reeks topgehalte wyne met baie spesifieke karakter en belangstelling.

Die jongste wyne in die Landscape Series open die wynmakery se rooiwyn-hoofstuk en bestaan uit die eerste Cabernet Franc en twee Syrahs, elkeen ’n verskillende uitdrukking van hul unieke terroir.

Die drie wyne, natuurlik gegis, is:

Gabriëlskloof Landscape Series Cabernet Franc 2015,

Gabriëlskloof Landscape Series Syrah on Sandstone 2015 en

Gabriëlskloof Landscape Series Syrah on Shale 2015.

“Gabriëlskloof is geseënd met ’n terroir-diversiteit wat komplekse karakters aan ons wyne verleen. In die twee Syrah’s in die Landscape Series het ons trekke gevind wat dit die beste illustreer,” sê die wynmaker, Peter-Allan Finlayson. “Hulle verteenwoordig die twee hoof-grondtipes op die eiendom. Ons sandsteen-wingerde lewer ’n elegante, geparfumeerde Syrah, terwyl die swaarder skaliegrond diep vrugkonsentrasie en diepte bied.”


Dié jongste wynbekendstelling is veral belangrik omdat die 2015-oesjaar wyd beskou word as die beste ooit. Die gerespekteerde Britse wynmeester, Tim Atkin, sê dit is die beste oesjaar wat hy geproe het in die 26 jaar waarin hy oor Suid-Afrikaanse wyn skryf.

Die eerste Gabriëlskloof Landscape Series Cabernet Franc 2015 is gemaak van 100% heel-tros druiwe van ’n enkelwingerd en spog met pragtig geïntegreerde pruim-, swart kersie- en ligte pepergeure. Gabriëlskloof se restaurant- en wynmaakspanne beveel aan dat dit met ’n vleisdis soos skaapboud of wildsvleis geniet word.

Die Landscape Series Syrah on Sandstone 2015 (bo) kry baie van sy karakter van die sandsteengrond waarin dit groei. Die wyn vertoon witpeper en rooivrugte in die neus, met ’n syagtige tekstuur-elegansie op die tong. Dit word aanbeveel as pasmaat vir disse soos die ryk en geurvolle Osso Buco (Italiaanse gestoofde kalfskeen).


Die Syrah on Shale 2015 (bo) groei in Bokkeveld-skalie en is ’n kragtiger wyn as sy eweknie en propvol donker rooivrugte met ’n tikkie soet speseryagtigheid. Die mondgevoel is ryk en die wyn het ’n talmende nasmaak. Dit is die ideale pasmaat vir disse soos Suid-Afrika se eie waterblommetjiebredie.

Die kelderdeur prys van die nuwe Landscape Series-rooiwyne is R325 per bottel.

Vir meer inligting, kontak die landgoed by 028 284 9865 of info@gabrielskloof.co.za.

EINDE