’n Skotse braai met Suid-Afrikaanse wyn wag op Kaapzicht!

Geniet 'n Skotse braai met Suid-Afrikaanse wyn.

Wat op dees aarde is ’n Skotse braai? Kom kuier op 27 Augustus saam in die Bottelary-heuwels buite Stellenbosch wanneer die bekroonde sjef, George Jardine, ’n spesiale middagete op die Kaapzicht-wynlandgoed sal aanbied ... en vind uit presies wat dit is. Die Skots-gebore Jardine en die wyne van die unieke Bottelary-heuwels is dié dag se hoof-attraksie. Dis die tweede geleentheid in die reeks “opwip-etes” wat deur die wynmakers van die Bottelary-heuwels aangebied word.

Tafels word om ’n gesellige vuur gedek en Jardine sal dan sy kulinêre meestersvernuf met die beste plaaslik-uitgesnuffelde bestanddele ten toon stel. Gaste sal ook sommer terselfdertyd die geleentheid kry om van die persoonlikhede te ontmoet wat nou aan die hoof staan van die geslagte wynkennis wat verantwoordelik is vir Bottelary-heuwels se wyne.

Die reeks “opwip-etes” het reeds ’n gunsteling onder kos- en wynliefhebbers geword. Elke keer word ’n top-sjef genooi om die feestelikheid te orkestreer.

George Jardine het deur die jare ’n lojale ondersteunerskorps met sy suksesvolle restaurante opgebou. Tydens die eerste “opwip-ete” het Jardine smulpape en lekkerbekke op Hartenberg verlei. Die reeks sluit op 19 November op Mooiplaas af.

Die middagete op Kaapzicht begin om 12:30. Kaartjies kos R550 per persoon en sluit ’n wynproe voor die ete, die ete met disse wat keurig met individuele wyne gepasmaat is en ’n bottel wyn uit die bekroonde Bottelary-wynstreek in.

Om jou plek aan die feestafel te verseker, of vir meer inligting, skakel 021 886 8275 of besoek www.wineroute.co.za.

EINDE