Inspirerende plaaskos en puik wyn op ‘nuwe’ Boschendal

Bottergeposjeerde hoender, oestersampioene en geposjeerde eier.

Daar is min sjefs met so ’n indrukwekkende spens soos Christiaan Campbell. Hoewel ander wynland-kombuise kan spog met propvol koskaste of hul verskaffers op “spoed-bel” het, het Campbell ’n definitiewe voorsprong. Net ’n paar treë buite die Werf Restaurant se kombuis op Boschendal strek meer as 2 000 hektaar vrugbare plaasgrond wat alles van uitvoer-gehalte vrugte tot grasveld Swart Angus-beeste en skrophoenders oplewer.

Boschendal se volhoubaarheidsfilosofie is presies die rigting wat ek nog altyd wou inslaan,” vertel Campbell met ’n groot glimlag terwyl hy uitkyk oor sy nege hektaar groentetuin wat die kulinêre hart van die opgeknapte Boschendal vorm.

Tussen die verhoogde beddings snuffel ’n swerm honger Indiese Loopeende vir kos en peste, terwyl die tuiniers hard werk om vars produkte vir die plaaskombuise te oes. Na die winterreën sal jy heel dikwels vir Campbell in die woude langs die stroompies aantref waar hy sy mandjie vol pluk van die gewilde Boletus- en dennering-sampioene.

“Die groentetuin gee beslis die pas aan vir ons spyskaart by die Werf Restaurant en voed ons kreatiwiteit in die kombuis,” sê Campbell, wie se tone omkrul van plesier oor die reuse-verskeidenheid vars produkte wat elke oggend by die kombuis afgelewer word. “Die groente is ongelooflik en proe heerlik. Hulle kom ook in interessante vorms en groottes uit die tuin.”

Alhoewel die groentetuin onder die wakende oog van die tuinboukundige, Megan McCarthy, indrukwekkend is, is dit net een van die “rakke” in Boschendal se spens.

ONDER: Kraakvars tuinslaai met tuisgemaakte slaaisous.

Boschendal se 900 plus sterk Swart Angus-beesstoet voorsien die grasveld-beesvleis vir die Werf Restaurant se kombuise. Die Angus-troppe wei op ‘n rotasiebasis. Duisende lêhenne stap saam met die beeste en lê tot 1 000 eiers. Elders op die plaas wei honderde braaihoenders vry op die lande, terwyl ’n klein troppie skape die kombuis se skaapvleis-voorrade in die besige somermaande aanvul. In die skaduwee van die populiere langs die groentetuin staan ’n handjievol Duroc-varke, die begin van nog ’n droom-projek, naamlik om “vrywei”-vark op die landgoed te produseer.

“Ons is regtig bederf met al die goeie vleis op die plaas,” sê Campbell. “Ek dink egter ons het grense verskuif met betrekking tot mense se benadering jeens grasveld-bees. Mense beoordeel lankal nie meer hul biefstuk op sy sagtheid nie, maar eerder op sy smaak, en beide die geur en tekstuur van die plaas-beesvleis is net ongelooflik.”

Campbell se inspirerende aanslag tot volhoubaarheid het sy reputasie as een van die voorste sjefs in die Kaapse Wynlande verseker, maar sy passie vir voortdurende groei en verbetering het ’n stille rewolusie in die spyskaart en eet-ervaring by die Werf Restaurant ontketen.

Die disse wissel met die seisoene, maar hou jou oë oop vir lekkernye soos die intense lamsaftreksel met gepluisde lamsmagie en Paryse gnocchi. Die bees-tartare is net so heerlik danksy die intens droog-verouderde Angus-bees en Campbell se subtiele toevoeging van gepekelde rooi uie en gekuurde eiergeel.

Die hoofgeregte is die beste vertoonstuk van die plaas se “vrywei”-troppe, of dit nou die stadig-geroosterde lamskouer met broccoli risotto is of ’n Angus-beesborsstuk, warm-gerook vir 16 uur en bedien met romerige, organiese mielie-polenta en ’n slaai van wilde kruie wat tussen die groentebeddings gepluk is.

Die Werf Restaurant is geleë in die landgoed se oorspronklike wynkelder en die opregtheid en herkoms word ook gepas in die dekor weerspieël. Terwyl die gaste buite op die ruim stoep of binne die restaurant die pragtige gietysterligte en Delft-geïnspireerde portrette bewonder, is dit beslis die panoramiese uitsigte oor die Werf se kostuin wat die hoof-trekpleister is en die skakel tussen die plaas en bord bied.

Egtheid is beslis die een enkele woord wat op die hele opgeknapte landgoed van toepassing is. In die Plaaswinkel & Deli sal besoekers ’n wye reeks tuisgemaakte produkte van Boschendal en uitgesoekte verskaffers vind, terwyl die gerestoureerde Boschendal herehuis binnekort ’n nuwe proelokaal sal huisves, waar erfenis, wyn en plaaskos saamgevoeg sal word. Hier kan besoekers uitsien na luukse-proeë wat met disse uit Campbell se kombuis gepas sal word.

REGS: Koejawels, vla en pikante roomys.

Dit bied die geleentheid om die Werf Restaurant se spyskaart te proe en om mense in die restaurant te verlei, maar ook ’n kans vir ’n ligte happie saam met die landgoed se heerlike wyne,” voeg Campbell by.

Boschendal is op die Pniel-pad in Groot Drakenstein buite Franschhoek geleë. Die Werf Restaurant is van Woensdag tot Sondag oop vir middagete, van 12:00 tot 14:30 (gaste moet teen 14:00 sit) en vir aandete van Woensdag tot Saterdag van 18:00 tot 21:00 (gaste moet teen 20:30 sit). Neem asseblief kennis dat besprekings noodsaaklik is.

Vir besprekings by die Werf Restaurant, skakel 021 870 4206 of stuur epos na werf@boschendal.co.za. Om ’n tafel by die Plaaswinkel & Deli te bespreek, skakel 021 870 4276.

EINDE