Wanneer mense nie weet wat hulle nie weet nie van SA wyn en brandewyn

Suid-Afrikaanse wyn is tops!

Oorlede Ronnie Melck van Muratie- en SBW-faam, ’n ware wynghoeroe, het meer as vier dekades gelede só geantwoord op ’n dom vraag van ’n jong Matie-student: “Die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou, ongeag handelsmerk, prys of toekennings. Laat jou tong jou lei want dis die enigste wynkenner.”

Ek het onlangs weer eens aan hierdie stelling gedink toe ons by mense gekuier het wat nét Franse wyn bedien wanneer hulle onthaal. En so nou en dan ook ’n sauvignon blanc uit Nieu-Seeland, of ’n shiraz uit Australië, of ’n malbec uit Argentinië, net vir ’n verandering … en natuurlik om te wys hoe wynberese hulle werklik is. En as jy vra vir “harde hout”, word jy Franse konjak bedien … met eweveel aansit.

Hoewel die versoeking baie groot was om hulle op te voed oor Suid-Afrikaanse wyn en brandewyn en hul onkunde bloot te lê, het ek besef (met die hulp van vroulief se elmboog!) dat dit ’n verlore stryd sou wees en dat daar sterk potensiaal vir ’n bekgeveg was wat selfs in die hof ’n draai kon maak. Dit was duidelik ’n geval van mense wat nie weet wat hulle nie weet nie, en aan sulkes is daar geen salf te smeer nie.

En toe begin ek daaraan dink om iets te skryf oor die gehalte van ons wyn en brandewyn, maar aangesien ek maar ’n bitter klein ratjie in ’n allemintige groot wynkommunikasiemasjien is en my mening iets soos poep teen donderweer sal wees, het ek myself ingehou. En toe maak ek eendag op ’n reëndag die koerant oop en daar is die artikel wat ek wou geskryf het, net baie beter geskryf deur ’n wynkenner en –vriend, ene Emile Joubert.

Onder die opskrif “Boere, julle het rede om te dans!” skryf Emile toe: “As dit by wyngehalte teen ’n sekere pryspunt kom, is daar min – indien enige – lande wat by Suid-Afrikaanse wyne kan kers vashou.

“Of ’n mens nou ’n bottel wyn van R40 uit die Breedekloof vergelyk met ’n soortgelyke intreevlakwyn uit Spanje of ’n R450-nommer wat langs ’n Boergondiese chardonnay staan, die Suid-Afrikaanse produk gaan meesal sy gevleuelde buitelandse eweknie uit die pad vee.

“Met die groei in opgevoede wynverbruikers wêreldwyd, tesame met die volumes derdehandse drekwyne wat in die markte beland, gaan die aanvraag na wyne van hoër gehalte toeneem …

“Suid-Afrika se reputasie vir goeie wyn is gewis gerat om hieruit munt te slaan en sy kop te laat uitstaan.”

Emile skryf verder dat dit een ding is om goeie wyn van die regte soort te hê om aan die wêreld te bied, maar dat dit ook belangrik is dat hierdie wyn teen ’n premieprys op die rakke in die buiteland staan. Dit sal waarde ontsluit vir diegene in die produksieketting wat vir die wyn se maak verantwoordelik is en verder sal dit Suid-Afrika se beeld as ’n premie-wynland in die koppe kry van diegene wat dink “ons is maar net ’n bekveldkolonie in die Derde Wêreld”.

Hy sê voorts met die koms van die organisasie Cape Vintner Classification (CVC) het die plaaslike wynbedryf nou ’n liggaam wat die onberispelike gehalte en premie-reputasie van gevestigde handelsmerke internasionaal bemark en bevorder.

Wat Suid-Afrika se brandewyn van wêreldgehalte betref, daar is al soveel daaroor geskryf en daarmee gespog dat mense wat steeds nie weet dat ons “goud in glas” loshande die beste ter wêreld is nie, sal seker nooit weet nie. Maar dit is hulle verlies! En dan’s daar natuurlik meer vir ons wat gehalte ken en waardeer.

EINDE