’n Aand van elegansie wag op vanjaar se Protea-partytjie

Die "eregaste" op die partytjie!

Lekker kos, lekker wyn, lekker samesyn. Dis wat wag op die Anthonij Rupert Wyne-landgoed naby Franschhoek se jaarlikse wynlandviering, die Protea-partytjie, wat Saterdag, 28 Oktober, aangebied word.

Die Protea-partytjie, een van die hoogtepunte op die sosiale kalender van die Franschhoek-wynvallei, vier die gees van die bekroonde landgoed se gewilde Protea-wynreeks. Hierdie eksklusiewe makietie is die ideale geleentheid vir kos- en wynliefhebbers om byeen te kom en puik kos en uitmuntende wyn te geniet terwyl hulle hul kan vergaap aan die majestieuse uitsigte vanaf die Anthonij Rupert-proelokaal.

Anthonij Rupert Wyne se Protea-reeks bestaan uit 8 wyne wat vernoem is na die blomsoort wat uniek is aan die Kaapse Blommeryk. Die kenmerkende wynbottels se veelsydigheid word elke jaar op verskeie maniere ten toon gestel, van blompotte en waterglase tot olyfolie- en balsamiekasynhouers, en selfs ’n pragtige kerskandelaar wat aan die magnoliaboom op die grasperk hang. Met die onlangse toevoeging van die handelsmerk se nuwe, innoverende Helix-kurkprop word vanjaar se dekor geïnspireer deur ’n wit, swart en kurktema, alles met ’n landelike elegansie. Dit sluit houttafels, intieme en gemaklike sit-areas en vars proteas in wat op die landgoed self groei, alles om ’n atmosfeer van wynland-elegansie te skep.


BO: Uitspan en ontspan met puik kos en wyn, en kyk ook sommer hoe veelsydig die Protea-reeks se bottels aangewend word!

Die aand skop af met skemerkelkies wat deur die Protea-wynreeks geïnspireer is. Dit word gevolg deur ’n spyskaart wat bestaan uit disse wat van vars, plaaslike produkte gemaak is, kenmerkend van die Protea-partytjie. En die kos word natuurlik vergesel deur wyne uit die Protea-reeks.

Gaste sal die fees begin met borde vol sappige Kofta-lamsvleishappies bedien met beet-humus en zucchini-poffertjies, sop van soetmielies en gerookte paprika, en geroosterde garnale met kreefroom. Die hoofgereg bestaan uit geroosterde kortrib gegeur met knoffel, heuning en soja. Dit word vergesel deur seisoenale groente en slaai. Die nagereg word deur die Protea-reeks geïnspireer en bestaan uit ’n suurlemoentert-brûlée met kleurvolle makrolletjies en seisoenale bessies.

Wyne uit die Protea-reeks kan regdeur die aand geniet word, rustig en ontspanne of op die dansvloer op die maat van lekker musiek wat die kroon sal span op die aand se verrigtinge.

Kaartjies vir die Protea-partytjie kos R550 per persoon, wat die driegang-aandete, wyne en lewende vermaak insluit. Voorafbespreking is noodsaaklik aangesien sitplek beperk is. Dit kan gedoen word by www.webtickets.co.za.

Vir enige navrae, skakel 021 874 9041 of stuur ’n epos aan tasting@rupertwines.com.

EINDE