Eikendal verlei die somer met ’n unieke kaaskoek-en-wynervaring

Kaaskoek en wyn, wat 'n hemelse kombinasie!

Vars sitrusgeure gevolg deur ’n ryk bessieverrassing wat afgerond word met ’n stukkie gesoute karamel-hemel. Hierdie is die smullekker kaaskoeke wat deur Eikendal Vineyards aangebied word as deel van die splinternuwe Kaaskoek-en-Wynervaring – die eerste Stellenbosse wynplaas wat hierdie somer só ’n unieke proe-ervaring bied.

Eikendal se vars sauvignon blanc dans soos ’n somersbriesie saam met die romerige suurlemoenkaaskoek, terwyl die geurige bessiekaaskoek hande vat met die landgoed se versnit van sauvignon blanc en chardonnay. Hierdie liplekker ervaring word afgesluit op ’n hoë noot met Eikendal se bekroonde, ongehoute Janina Chardonnay wat sjarmant haar beste voetjie voorsit saam met ‘n hemelse gesoute karamelkaaskoek. Dis waarlik ’n voortreflike trio wat elke kalorie werd is.

Eikendal is geleë langs die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Benewens die Kaaskoek-en-Wynervaring kan gaste die volgende geniet:

Wynproeë (wat wyne uit die ekslusiewe Icon-reeks insluit),

’n Koekieproe vir die jongelinge,

Keldertoere,

Forelhengel,

’n Ontmoeting met ’n jagluiperd,

Wingerritte en

’n Gewilde speelpark vir kinders.

Die gewilde Cucina di Giovanni-restaurant bied luilekker middag- en aandetes, en gaste kan selfs hul gehaltekuier verleng deur by die Eikendal Lodge te oornag.

Die Kaaskoek-en-Wynervaring kos R80 per persoon en is beskikbaar van Dinsdae tot Sondae tussen 10:00 en 16:30 vanaf Oktober 2017 tot April 2018.

Vir enige navrae, kontak Chantal-Lee by 021 855 1422 of info@eikendal.co.za.

EINDE