Drie protégés van die Kaapse Wynmakersgilde op pad na Frankryk en die VSA

Sydney Mello, Maryna Huysamen en Banele Vakele.

Die Kaapse Wynmakersgilde se protégé-program, ‘n toonaangewer van transformasie in die wynbedryf, ploeg kennis terug in die wynbedryf deur drie protégés die geleentheid te gee om vanjaar belangrike internasionale ondervinding op te doen in van die wêreld se bekendste wynbougebiede.

Banele Vakele van Khayelitsha en Sydney Mello van Mahwelereng in Limpopo, albei in hul tweede jaar as wynkunde-protégés, sal Boergondië in Frankryk besoek. Gedurende hul tyd in Frankryk sal Banele, wat vanjaar deur Boela Gerber by Groot Constantia gementor word, en Sydney, wat saam met Johan Malan by Simonsig werk, opleiding ontvang by die CFPPA, die sentrum vir beroepsopleiding en landboubevordering, in Beaune, die hart van die Boergondiese wynwêreld. Tesame met formele leierskapklasse sal hierdie protégés ook op verskeie klein familie-wynlandgoedere werk en deur die bekende wynboustreke van Frankryk toer, insluitend Champagne, Bordeaux en Côtes du Rhône.

Maryna Huysamen van Vredendal, wat haar tweede internskapjaar onder leiding van Charles Hopkins by De Grendel deurbring, het self haar parsseisoen by Alexander Vineyards in Kalifornië in die VSA gereël. Hier sal sy eerstehandse ervaring kry van hoe dinge in die VSA gedoen word en belangrike insig tot die Amerikaanse wynmaakkultuur inwin.

Die Protégé-program, onder die beskerming van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde se Ontwikkelingtrust het sedert 2013 aan nege protégés die geleentheid gegee om deel te neem aan hierdie jaarlikse uitruilprogram.

Die Protégés word ook aangemoedig om hul eie internasionale pars-ervarings tydens hul internskap van drie jaar te reël.

Om te help om geld vir die protégé-program in te samel, kom daar jaarliks ‘n spesiale liefdadigheidsitem onder die hamer by die veiling van die gilde. Geld word ook ingesamel ten bate van die protégé-program deur ‘n sogenaamde “stil veiling” van vorige veilingwyne en kelderjuwele van die gildelede.

Besoek www.capewinemakersguild.com of kontak die gildekantoor by 021 852 0408 of info@capewinemakersguild.com vir meer inligting.

EINDE