Op soek na SA se beste jong wynskrywer

Waar is SA se beste jong wynskrywer?

Inskrywings is nou oop vir Veritas se 2017- Jong Wynskrywerskompetisie.  Hierdie kompetisie, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), is daarop gemik om opwindende nuwe stemme in die wynbedryf te identifiseer.  Verder bied dit 'n geleentheid vir die wynbedryf om met die nuwe geslag wynskrywers en -geesdriftiges in gesprek te tree oor verskillende aktuele kwessies rakende wyn.

Volgens SANWSV se voorsitter, Christo Pienaar, het die veranderende digitale era menige platforms vir die deel van inligting geskep. “As een van die belanghouers in die wynbedryf, is dit ons verantwoordelikheid om as vereniging deel te wees van die gesprek rondom Suid-Afrikaanse wyn en te  help om 'n kultuur van belangstelling en kennis oor wyn by verbruikers te kweek.  Ons glo dat hierdie kompetisie 'n nuwe kanaal vir skrywers en bloggers sal skep om hulself uit te druk en daardeur ander sal stimuleer om aan te sluit by die opwindende terrein van mening-uitruiling oor  wynverwante sake.”

Die kompetisie is oop vir alle Suid-Afrikaanse burgers/inwoners tussen die ouderdomme van 18 - 35 jaar. Geen persone in hierdie ouderdomsgroep wat voltyds as wynskrywers werk, mag inskryf nie, asook nie vorige wenners van die kompetisie nie.

Deelnemers word versoek om twee inskrywings in te dien:  'n artikel van 700 woorde en 'n blog-pos van 300 woorde.

Die artikel moet handel oor die volgende onderwerp: Stortmaat tot bottel – wát sal die bedryf moet doen om te skuif van volume tot waarde?

Die blog moet geskryf word oor: Suid-Afrika as globale leier in wyntoerisme. Gee 'n indruk van kliëntediens wat jy in die jongste tyd in die wynbedryf ervaar het.

Alle inskrywings sal deur 'n paneel ervare en vooraanstaande Suid-Afrikaanse wynskrywers beoordeel word.

Riglyne om in gedagte te hou, sluit in:

Inhoud – weerspieël noukeurigheid, leesbaarheid, inligtings-oordrag, opvoedkundigheid en 'n mate van vermaak;

Akkuraatheid – dit is noodsaaklik om aandag te gee aan taal en spelling;

Beredenering – die vermoë om 'n uitgangspunt en gevolgtrekking of oortuigende argument oor te dra;

Kommunikasie en vertelling – weerspieël 'n goeie vertelvermoë, terwyl inligting met die leser gedeel word.

Die wenner sal 'n kontantprys van R15 000 ontvang en die naaswenner R7 500. Inskrywings mag in enige van die land se 11 amptelike tale ingedien word. Alle inskrywings moet in MS Word-formaat gestuur word aan elsabe@veritas.co.za, tesame met 'n voltooide inskrywingsvorm en 'n beknopte CV van die deelnemer, met inligting oor vorige wynskryf-bedrywighede.

Die kompetisie sluit om 12:00 op Vrydag, 27 Oktober 2017. Klik op die inskrywingsvorm om dit af te laai.

Vir meer inligting, kontak die SA Nasionale Wynskou-kantoor by 021 863 1599 of info@veritas.co.za.

EINDE