Nederburg sit segetog voort!

Pure goud!

Nederburg het sy vermoë om dessertwyne van die hoogste gehalte te maak weer eens beklemtoon toe die Paarlse wynmakery ’n platinum-toekenning op die jongste Michelangelo International Wine & Spirits-kompetisie verower het met sy The Winemasters Noble Late Harvest 2017.

Dié heuningsoet dessertwyn met sy lewendige asiditeit en geure van klipvrugte is ’n versnit van chenin blanc met botrytis en muscat de frontignan. Dit het reeds ’n benydenswaardige reputasie opgebou nadat vorige oesjaarwyne nie minder nie as agt keer vyfstergraderings in die gesaghebbende Platter’s South African Wine Guide ontvang het, asook trofeë en goue medaljes op kompetisies soos die International Sweet Wine Challenge, die International Wine & Spirit Competition, die Six Nations Wine Challenge en die Decanter World Wine Awards.

Nederburg, Platter’s se heersende “Wynmakery van die Jaar” en die International Wine & Spirit Competition se huidige “Suid-Afrikaanse Wynprodusent van die Jaar”, het ook drie dubbelgoue medaljes op die Michelangelo-kompetisie los geslaan vir sy Nederburg Ingenuity White 2016 (onder), ’n innoverende versnit van agt kultivars met sauvignon blanc aan die voortou, die Nederburg Heritage Heroes The Motorcycle Marvel 2015 (heel onder) en die The Brew Master 2015, albei rooi versnitte, eersgenoemde ’n Rhône-versnit en laasgenoemde ’n Bordeaux-versnit. Al drie ontvang gereeld lofbetuigings op sowel plaaslike as internasionale kompetisies.

Nederburg se Private Bin R163 Cabernet Sauvignon 2014 het ’n goue medalje ontvang op die kompetisie, asook die landgoed se Heritage Heroes The Anchorman 2016, wat onlangs as die land se beste chenin blanc bo ?15 aangewys is op die 2017- Decanter World Wine Awards in London. Dit is ook aangewys as een van die wenwyne in vanjaar se Standard Bank Chenin Blanc Top 10-uitdaging van die Suid-Afrikaanse Chenin Blanc-vereniging.


“Nederburg is op ’n segetog!” sê Anna-Marie Marks, Nederburg se globale handelsmerk-ontwikkelingsbestuurder. “Ons ryg geruime tyd reeds die een toekenning na die ander in regoor ons volledige wynportefeulje, van ons eksklusiewe Private Bin-wyne tot die meer toeganklike aanbiedings soos ons The Winemasters-versameling. Dis duidelike bewys dat noukeurige aandag aan detail elke stap van die wynmaakproses vergesel by Nederburg. Ons verbintenis tot volgehoue innovasie en die beste wynmaakpraktyke verseker sukses, en erkenning soos hierdie dien as groot motivering vir ons wingerd- en kelderspanne om voort te gaan met hul verkenning en eksperimentering.

“Om drie wyne uit ons Heritage Heroes-reeks uitgesonder te kry, is beslis ’n groot eer. Hierdie versameling fynproewerwyne huldig die uitsonderlike persoonlikhede in Nederburg se glorieryke geskiedenis wat ’n groot rol gespeel het om die landgoed te vestig as een van Suid-Afrika se mees gesogte wynhandelsmerke.”


Dit het intussen bekend geword dat Nederburg se II Centuries Cabernet Sauvignon 2013 die kortlys gehaal het vir vanjaar se gesogte “Trofee vir Cabernet Sauvignon” van die IWSC. Verlede jaar is die 2013-oesjaar van Nederburg se Private Bin R163 Cabernet Sauvignon ook so vereer en het toe die trofee vir die beste cabernet sauvignon ter wêreld ingepalm. Nederburg self het ook die kortlys gehaal vir die titel “Suid-Afrikaanse Wynprodusent van die Jaar” van die IWSC. Vyf ander Suid-Afrikaanse wynprodusente het ook dié lys gehaal. Al die IWSC-wenners word op 15 November in London bekend gemaak.

Koop Nederburg se Ingenuity-, Heritage Heroes- en The Winemasters-reekse aanlyn by www.vinoteque.co.za of by uitgesoekte wynwinkels. Die Nederburg Private Bin-wyne word uitsluitlik op die jaarlikse Nederburg-veiling verkoop.

EINDE