FABER op Avondale laaf liggaam en siel

Die pragtige gebou wat FABER huisves, omring deur asemrowende natuurskoon.

“There is no love sincerer than the love of food,” aldus George Bernard Shaw, die bekende Ierse dramaturg (1856-1950). Kort op kos se hakke is wyn, reken ek.

En nes daar kos vir fynproewers is en vir diegene wat hulself kan verlustig aan hartlike, heilsame geregte, is daar wyn vir fynproewers sowel as vir gewone wynliefhebbers. In elke geval moet net die beste bestanddele gebruik en die beste voet voorgesit word, by wyse van spreke, dan’s die Kaap Hollands! Ongelukkig is daar ’n premie te betaal vir albei, maar so nou en dan is dit beslis die pyn werd.

So gepraat van die Kaap, die diversiteit van die wynlande se kos- en wynaanbiedings is genoeg om mens se mond permanent te laat water. Mens kan elke maand in ’n verskillende eetplek by ’n wynmakery eet en letterlik vir ’n hele paar jaar nooit hoef terug te gaan na dieselfde plek nie.

Ons het ’n paar jaar gelede die bekroonde sjef, Eric Bulpitt, in die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus raak geëet, weer eens by wyse van spreke, toe ek ’n artikel oor daai bekende vallei gaan doen het. Die eetplek was op die Newton-Johnson-landgoed en ons was baie beïndruk. Toe ek dus verneem dat Eric en sy hele span Newton-Johnson vir Avondale buite die Paarl verruil het, het ek geweet dis tyd dat ek my weer eens aan sy skeppings gaan verlustig, saam met Avondale se wyne natuurlik!

So gesê, so gedaan! Ons het vir middagete bespreek tydens Restaurant-week en buite op die stoep onder die prieel gaan aansit, die monde reeds aan’t kwyl in afwagting!

REGS: Die smaaklike, vars "aptytwekkers" met ons drankies.

Vars saad- en suurdeegbroodjies met ’n geurige botter, asook soetpatatkoekies, het ons monde “geplavei” terwyl ons bestel het. Vroulief het op die Restaurant-week se driegangmaal teen R300 besluit. Haar keuse vir voorgereg was Ceres- (chestnut) kastaiing-velouté, halfgedroogde appel en tuisgemaakte mosterd en kruie (links onder), terwyl sy op oondgeroosterde hoenderborsies, krakerige koring, groentee-velouté en kruieslaai (regs onder) besluit het vir die hoofgereg. Gebakte appel, botterbeskuitjies, karamel-crémeux en vanielje- crème anglaise was haar nagereg.

Die Restaurant-week se spyskaart het my die opsie gegee om teen R80 ekstra iets te ete van die à la carte-spyskaart te bestel. My voorgereg was die rou beesvleis met gerookte stokviskuit-emulsie, Switserse spinasie en peperwortel (R89*), terwyl ek op die verouderde Chalmar-beeslende en uie wat “geskroei, gepiekel en fyn gemaak is” (R190*) en handgesnyde Sifra-tjips (R30) besluit het as hoofgereg. Ek het die vleis “very rare” bestel want ek verkies om die bees die finale nekslag op my bord toe te dien! Nagereg was kokosneut- panna cotta, geskroeide pynappel en pynappelbiersorbet (R82*).

Terwyl vroulief haar tradisionele “liggewig”-koeldrank bestel het, het ek op Avondale se rooi versnit, die Jonty’s Ducks Pekin Red 2010 (R175 per bottel/R44 per glas) besluit. Dis ’n versnit van shiraz, cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, petit verdot en malbec propvol geure van swart bessies en droplekkers met so ’n sweempie gemaalde koffiebone. Sagte tanniene maak van hom een groot plesier!

Saam met my nagereg het ek ’n glas van Avondale se Muscat Blanc 2008 (R250 per bottel/R42 per glas) geniet. Hierdie wyn is geheel en al van muscat de frontignan-druiwe gemaak en is nie net pragtig op die oog met sy goue kleur nie, maar stuur mens se smaakkliere in vervoering met sy verruklike geure van lietsji, lemmetjie en ligte marsepein.

Soos tevore in die Hemel-en-Aarde-vallei is ons smaakkliere deur Eric en sy span op ’n heerlike, hemelse reis geneem. Avondale se wyne het in my geval ook baie bygedra om die hele ervaring besonders te maak. Maar, en hier’s die enigste klagte, hoewel my beeslende sappig en geurig was, was dit glad nie “very rare” soos bestel nie, eerder “medium rare”. Dis die tweede keer dat dit gebeur en ek begin nou wonder of ons sjefs die verskil tussen “medium rare” en “very rare” verstaan, of is dit maar net ‘n geval dat hulle so gewoond is dat Suid-Afrikaners bang is vir “very rare” dat hulle dit nie eintlik meer so doen nie. Indien so, is dit verdere bewys dat Suid-Afrikaners – oor die algemeen – nie “educated palates” het nie.

Die diens was flink en vriendelik en het baie bygedra om die meer informele fynproewer-eetervaring onvergeetlik te maak.

Buite op die stoep met sy uitsigte op die pragtige, kleurvolle tuin, omliggende wingerde en berge en heuwels is die ideale kuierplek vir die warmer somermaande, terwyl FABER ’n warm en intieme atmosfeer bied binne die restaurant, so in die kol vir die kouer wintermaande.

Om te bespreek, skakel 021-202-1219 of stuur ’n epos aan faber@avondalewine.co.za.

*à la carte-pryse

EINDE