’n Dagbesoek aan die ‘Pêrel van die Boland’

Grande Roche, waar die besoek afgeskop het met brekvis.

Dis ’n dorp met ’n hoofstraat wat 12 km lank is en waar mens plek-plek die wingerde byna met die uitgestrekte hand vanuit jou kar kan aanraak, nes in baie soortgelyke dorpe in Frankryk, Italië, Spanje, Portugal en elders in Europa; ’n dorp wat spog met puik voorbeelde van Georgiaanse, Victoriaanse, Edwardiaanse en Kaaps Hollandse geboue; die Afrikaanse Taalmonument met sy “vinger” wat na die sterre wys en die ongelooflike rykheid en kreatiwiteit van “die taal” uitbeeld; die Paarlberg aan sy suidekant en die Drakensteinberge in die noorde.


Die Paarl is die derde oudste nedersetting in Suid-Afrika en is in 1687 gestig. Die dorp verkry sy naam van die reusagtige granietrots op die Paarlberg wat mens nie kan miskyk nie.


Maar die “Pêrel van die Boland” is veel meer. Dit lê aan die hart van die Paarl-wynstreek, bekend vir sy wyne van uitnemendheid, sy ongelooflike wyntoerisme-aanbiedings in terme van bly- en eetplekke, en veel meer.

Toe ek dus uitgenooi word deur die Paarlse wynroete om saam met ’n klein groepie mediamanse vir ’n dag lank in daardie geweste te kom kuier, het ek nie ’n oomblik gehuiwer nie.

 

Ons besoek het afgeskop met ontbyt by die Grande Roche-hotel in die hart van die dorp. Die uitsige op wingerde en die Drakensteinberge alleen maak ’n besoek aan hierdie elegante hotel die moeite werd. Voeg ’n watertand-ontbyt en sjampanje by en jy’t geen verskoning meer om weg te bly nie.

 

Die “borrels” saam met ontbyt die oggend was die Villiera Starlight “The Light Cap Classique” Brut, een van die lekkerste sjampanjes om enige ontbyt te komplementeer, veral as ‘n lang werksdag nog voorlê.


Hiervandaan is ons na die KWV se House of Fire agter die KWV-hoofkantoor op die dorp. Hier huldig KWV op ’n baie interessante, opvoedkundige en sensoriese wyse die pioniers van Suid-Afrikaanse brandewyn. Hoewel die gebou vandag ’n museum is, was dit die heel eerste brandewyndistilleerdery in die Paarl.

 


 

Voordat mens by die proegedeelte van die besoek uitkom, leer jy, danksy ’n goeie gids, van die prosesse van brandewynmaak, van die verskillende geure en veel meer.

 


 

Die multi-sensoriese brandewyn-ervaring het met ’n brandewyn-en-sjokolade-proe geëindig waartydens vier KWV-brandewyne – 10, 12, 15 en 20 jaar oud – met verskillende sjokolades “gepaar” is. Die wyse waarop die geure van elke brandewyn met dié van die verskillende sjokolades saamwerk, en tegelykertyd bietjie van die skoon brandewyn se “skop” wegvat, bly vir my fassinerend. Maar as groot brandewynliefhebber wou ek ook hierdie wêreldklas-spiritualieë op hul eie geniet, met so ’n eetlepel of twee suiwer water. Dit het vir my die kroon gespan op een van die hoogtepunte van my Paarlse besoek.

 

Die 10-jaar-oue KWV-brandewyn spog met ’n diep geelbruin kleur en geure van gedroogde vrugte, pruimedant, perske, appelkoos, speserye en eikehout, terwyl die goue een wat 2 jaar ouer is geure van gedroogde vye, sitrus, heuning, eikehout en sweempies wit sjokolade vrystel.

 

 

Die brandewyn met 15 jaar se veroudering het ’n helder goue kleur. Geure van gedroogde vrugte soos appelkoos en perske, crème brulee en sweempies sjokolade en karamel terg die neus en mond. KWV se 20-jaar-oud verras op sy beurt met sy sagte en gladde mondgevoel. Hierdie brandwyn met sy goue, geelbruin kleur is propvol geure van sitrus, vrugtekoek, speserye en titsels heuning.

 


 

Nadat ek my brandewynvoorraad aangevul het, is ons Nederburg toe vir middagete in The Red Table-restaurant. Dit was beslis nie my eerste besoek aan hierdie bekroonde landgoed nie en sal ook nie my laaste wees nie want hier het ek al ’n hele paar keer my smaakkliere met groot genoegdoening oorgegee aan fynproewerdisse en –wyne.

 


 

’n Heerlike tweegang-middagete in die landgoed se indrukwekkende herehuis is vergesel van twee wyne uit hul uitmuntende The Winemasters-reeks, die 2016- Sauvignon Blanc en die 2015- Cabernet Sauvignon. Daar is ’n goeie rede hoekom “wynmeester” in die naam van hierdie wynreeks verskyn want dis wyne wat meesterlik gemaak is en die wynmaakfilosofie van Nederburg in hierdie bottels weerspieël.

 

Aangesien die weer nie mooi saam gespeel het nie, kon ons nie buite op die stoep onder die reuse-akkerbome met pragtige uitsigte op die grasperk, tuin en wingerde ontspan nie. Dis natuurlik ideaal vir die warm somermaande!

 

Teen hierdie tyd het almal gereken dit was nou genoeg bederf vir een dag, maar die spreekwoordelike kersie op die koek het by Guiseppe at Belair gewag waar die heerlike besoek aan die Paarl afgesluit is met koffie en biscotti.

 

Tot ’n volgende keer!

EINDE