Constantia Glen-wynmaker stel nuwe reeks onder eie etiket bekend

Die vier wyne.

Constantia Glen se wynmaker, Justin van Wyk, wat sedert 2011 verantwoordelik is vir hierdie bekende landgoed se wyne, het pas sy eie wynreeks, Van Wyk Family Wines, bekend gestel.

Die vier wyne in die Van Wyk Family Wines-reeks word gemaak van druiwe wat Van Wyk self vind in uitgesoekte wingerde dwarsoor die Wes-Kaap. Hierdie wyne word geskep by die Constantia Glen-kelder en is beskikbaar om te koop én proe by die landgoed se proekamer.

Die wyne, twee wit en twee rooi, reflekteer die Wes-Kaap se inheemse druifsoorte, met die grootste deel van die druiwe afkomstig van relatief ou wingerde.

“Om die diversiteit van die Kaapse grond en klimaat te vertoon, koop ek druiwe vanaf Darling, Stellenbosch, Breedekloof, Elgin en selfs Montagu. Dit gaan vir my oor ontdekking en leer by ander oor ‘n produk waarvoor ek hope passie het,” verduidelik Van Wyk.

Die Van Wyk Family Wines Chenin Blanc 2016 word gemaak van druiwe vanaf ‘n 37-jaar-oue wingerd in die Slanghoek-vallei in die Breedekloof. Hierdie witwyn is versny met 10% riesling wat varsheid op die tong na vore bring. Verwag ryp, geel vrugte en sitrusgeure van hierdie volronde wyn met sy gematigde suurgehalte en lang, smaaklike afronding.

Die Van Wyk Family Wines Olivia Grace 2016 is ‘n besonderse wit versnit van 43% chenin blanc, 26% chardonnay, 26% riesling en 5% viognier. Met die eerste draai van die glas begroet sweempes laventel, jasmyn en witbloeisels die neus. Hierdie geure smelt perfek saam met die vars suurgehalte op die tong. Terwyl die chenin blanc die struktuur van hierdie goed gebalanseerde wit versnit uitmaak, verleen die ander druifsoorte ‘n mengelmoes van geure, tekstuur en varsheid daaraan.

Van Wyk Family Wines se Rebecca May 2016 is ‘n interessante versnit van 62% cinsaut en 38% syrah. Die cinsaut kom uit ‘n wingerd wat in 1995 in die Breedekloof geplant is in uiters rotsagtige grond wat hoofsaaklik uit wit rivierklippe bestaan. Hierdie klippe reflekteer lig op die druiwe wat besonderse rypwordomstandighede skep. Die syrah-komponent van die versnit kom uit die koel klimaat van Elgin. Sweempies sappige, rooi bessies ontvou in blomgeure van gepersde viooltjies, terwyl die gematigde tog blywende karakter goeie balans en drinkbaarheid verseker.

Die Van Wyk Family Wines Syrah 2016 is geskep om suiwer syrah-vrugte uit koelklimaatwingerde ten toon te stel. Nadat 50% van die druiwe heeltros en 50% onstingel gegis is, is hierdie wyn vir 12 maande in tweedevul- Franse eikehoutvate verouder. Geure van donker vrugte gevolg deur elegante speserye en witpeper ontvou in verleidelike blomgeure, wilde roosmaryn en fynbos. Dié wyn is gematig met goeie spanning en balans.

“Hierdie wyne is baie spesiaal aangesien hulle my familienaam dra. Die versnitte is geskep om die uiteenlopendheid van die Kaap na vore te bring, en lê my veral na aan die hart aangesien hulle na my twee dogters, Rebecca May en Olivia Grace, vernoem is,” sê Van Wyk (links).

Affodille, die nasionale blom van Wallis, pryk op die Van Wyk Family Wines-etiket as ‘n huldeblyk aan sy vrou, Tracy, se Walliese erfenis. “Die drie kleurvolle blomme simboliseer my vrou en dogters wat soveel geluk, kleur en hardop lag in my lewe bring. Dit is hul vrolike gees en joie de vivre wat my aanmoedig om hard te werk en iets spesiaal en besonders te skep,” verduidelik Van Wyk.

Die Van Wyk Family Wines-reeks is direk by die Constantia Glen-wynlandgoed, sowel as ‘n paar fynproewer-restaurante en boetiekwynwinkels beskikbaar. Dit verkoop teen ‘n kelderprys van R220 per bottel.

Vir meer inligting, skakel 021-795-5639 of besoek www.constantiaglen.com.

EINDE