Nuy trek sy innoverende baadjie aan met Chant de Nuit

Lied van die Nag in 'n bottel!

Gedink koöperatiewe wynkelders kan nie innoverend wees nie? Wel, dink weer ’n slag. Die bekende en bekroonde Nuy-wynkelder in die Nuy-vallei tussen Worcester en Robertson het pas ’n vars, vrugtige wit versnit bekend gestel … met ’n verrassende kinkel! Die Chant de Nuit van Nuy bestaan uit twee bekende witwynkultivars en twee onbekendes. Die twee onbekendes is ook nie wynkultivars nie, maar tafeldruiwe, Ferdinand de Lesseps en Irsa Oliver. Laasgenoemde gee die wyn sy muskaatgeure en laat dit effe soeter voorkom.

Die Chant de Nuit, wat lied van die nag beteken, is ’n versnit van chenin blanc, colombar, Ferdinand de Lesseps en Irsa Oliver. Dit het ’n alkoholinhoud van slegs 11% per volume.

Nuy se Chant de Nuit, eens bekend as die Chant de Nuy, het ‘n ongewoon vrugtige karakter as gevolg van die gebruik van die minder bekende Ferdinand de Lessep-kultivar. Dit was die insluiting van hierdie kultivar wat tot die naamsverandering gelei het toe die Wyn en Spiritusraad in 1991 besluit het dat hierdie kultivar die wyn “onsertifiseerbaar” maak, en die gebruik van die naam Nuy op die etiket is verbied.

Die Nuy-span het koppe bymekaar gesit en slim 'n letter of twee verander … en daar het jy dit; 'n effens geheimsinnige, romantiese wyn met vars aromas van pynappel en perskes en 'n lang, lekker aangename nasmaak.

Moenie huiwer om die Chant de Nuit te geniet saam met 'n verskeidenheid kerries en speseryagtige geregte nie.

Die Chant de Nuit van Nuy kan teen slegs R46 per bottel verkry word by die wynmakery se proelokaal en restaurant, Nuy on the Hill, langs die R60 tussen Worcester en Robertson, of bestel dit aanlyn by www.nuywinery.co.za.

Vir meer inligting, kontak Amelia Truter by 023 347 0272 of marketing@nuywinery.co.za, of besoek www.nuywinery.co.za.

EINDE