Bellevue stel 1953 Pinotage en nuwe toeristegeriewe bekend

'n Ware versamelaarswyn.

Wanneer wynkenners oor pinotage praat, is daar een naam wat dikwels in dié gesprekke opduik as ’n vooraanstaande produsent van hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar, naamlik Bellevue in die Bottelery-heuwels buite Stellenbosch. Hier het die hoofbestuurder en wingerdboukundige, Dirkie Morkel, meer as 150 hektaar wingerd gevestig wat 14 verskilende wynkultivars bevat. Nie minder nie as 40 hektaar is aan pinotage toegewy, Bellevue se troefkaart! Hierdie wynlandgoed gaan egter oor veel meer as pinotage. Sy uitgebreide wynportefeulje sluit nie net verskeie ander wyne in nie, maar Bellevue spog nou ook met ’n nuwe restaurant en proelokaal.

Die jongste toevoeging tot hierdie indrukwekkende portefeulje is die Bellevue “1953” Pinotage 2016 wat die eindresultaat is van dekades se harde werk in sowel die wingerd as die kelder. Hierdie wyn kry sy naam van die spesifieke pinotage-wingerd wat reeds in 1953 aangeplant is. Hierdie wingerdblok is die afgelope 64 jaar as ’n sogenaamde droëlandwingerd bedryf, maar drupbesproeiing is in Mei vanjaar aangebring om die wingerdstokke te help tydens droogtetoestande soos die afgelope paar jaar beleef word. Die wingerd is geleë op ’n suidelike helling in die Bottelary-heuwels wat effe koeler temperature tydens die somermaande beteken. Die wingerdrye is in ’n oos-wes-rigting geplant en in twee verskillende grondsoorte, Cartref en Westleigh. Slegs tussen 2 en 2½ ton per hektaar word vir wynmaak gebruik.

Die druiwe vir die “1953” Pinotage 2016 is teen optimale rypheid met die hand gepluk. Na gisting en gereelde oorpomp in tenks van vlekvrye staal is die wyn vir 18 maande lank verouder in klein Franse eikehoutvaatjies.

“Hierdie is ’n uitmuntende Pinotage met ’n allemintige stamboom en erfenis,” sê Morkel. “Sy neus is propvol geure van pruime en maraschino-kersies, en dit word in die mond voortgesit. Die wyn vertoon groot verfyndheid, kompleksiteit, lengte en suiwerheid van vrugte. Die mondgevoel en einde spreek van fyn, geïntegreerde tanniene wat gekonsentreerde vrugtegeure omhels en lank na die laaste sluk nog talm.”

Die Bellevue “1953” Pinotage 2016 is direk by die proelokaal beskikbaar teen R545 per bottel. Slegs 600 bottels is gemaak.


Bo is die moderne en gerieflike proelokaal en onder die stoep en grasperk van die restaurant.


Hoewel hierdie geskiedkundige wynlandgoed in 1701 ontstaan het en die Kaaps-Hollandse huis in 1803 gebou is, en daar ’n kanon is wat 155 jaar oud is, is die restaurant en proelokaal modern en modieus. Die restaurant is in een van die kelder se geskiedkundige vleuels geleë en spog met ’n groot stoep en uitsigte op ’n lowergroen grasperk, die ideale plek vir uitspan en ontspan oor middagete!

Die spyskaart bied ’n keur van watertandgeregte wat enige smaak en geleentheid sal pas, van vars slaaie tot lipleklekker voorgeregte en heilsame hoofgeregte. En die pizzas en platters om te deel, beloof ook om treffers te wees.

Die restaurant is van Dinsdae tot Sondae oop van 9vm tot 5nm, maar Vrydae van 9vm tot 7nm.

Vir meer inligtng oor Bellevue se talle aanbiedings, kontak die landgoed by 021 865 2054 of info@bellevue.co.za, of besoek www.bellevue.co.za.

EINDE