Lanzerac stel beperkte, handgemaakte boetiekwyne bekend

PROF.

Die ikoniese Stellenbosse wynlandgoed, Lanzerac, het oor die jare heen talle bekroonde wyne opgelewer, sommige waarvan in eie reg ikone geword het, soos Mrs English Chardonnay, Le Général en Pionier Pinotage. Nou het die landgoed met ’n nuwe en opwindende hoofstuk begin met die klem op uitsonderlike boetiekwyne wat in beperkte volumes gemaak word.

Die Keldermeester Versameling (of KV-reeks) is ’n beperkte reeks unieke wyne wat die skepping van die landgoed se keldermeester, Wynand Lategan, is.

“Met hierdie wyne is die fokus grootliks op eksperimentering uit sowel ’n kultivar- as ’n terroir-perspektief,” verduidelik Wynand. “Hulle is ook ’n manier om konvensionele wynmaakmetodes uit te daag en om te bewys dat ’n wynlandgoed met soveel geskiedenis en tradisie agter hom terselfdertyd innoverend kan wees. Hoewel Lanzerac tradisie as uiters belangrik beskou, sal innovasie nooit tweede viool speel nie.”

Die KV-reeks is ook ’n baie persoonlike reis vir Wynand en verteenwoordig heelwat  van sy eie geskiedenis, persoonlikheid en ervarings.

“Ek het Afrikaans op die etikette gekies omdat ek enersyds baie trots Afrikaans is en andersyds ewe trots Suid-Afrikaans. Baie Franse wyn het net Frans op hul etikette – dieselfde geld vir baie Italiaanse, Portugese en Spaanse wyne – en ek wou graag iets in my moedertaal doen.”

Slegs kultivars wat nie algemeen in Lanzerac se wyne gebruik word nie, word gebruik in die produksie van die Keldermeester Versameling-reeks, en die wyne sal nie noodwendig elke jaar dieselfde wees nie. Dit stel Wynand in staat om unieke, handgemaakte wyne te skep aangesien die kultivars wat gebruik word, mag verander afhangende van die gehalte van die druiwe beskikbaar. Die druiwe vir die wyne word verkry van waar ookal Wynand net die beste kan bekom.

Die heel eerste wyne in die Keldermeester Versameling is die BERGPAD 2016,  PROF 2016 en DOK 2015.


BO: BERGPAD en DOK.

PROF is die hoeksteen van die KV-reeks en versinnebeeld Lanzerac se geskiedenis in elke sluk. Hierdie is ’n versnit van 60% cinsaut en 40% pinot noir. Die inspirasie vir hierdie wyn is ’n poging om uit te vind wat Professor Abraham Perold in gedagte gehad het toe hy in 1925 pinotage geskep het deur cinsaut (ook bekend as hermitage) en pinot noir te kruis. Dit was op Welgelegen (die Universiteit van Stellenbosch se proefplaas) waar Perold die eerste pinotage-stokkies verbou het. Hy het nooit die geleentheid gehad om die eerste gebottelde pinotage te proe nie, en Wynand probeer met die skep van hierdie wyn agter die kap van die byl te kom oor hoekom Prof. Perold hierdie roete ingeslaan het.

BERGPAD is ’n pinot blanc uit ’n enkelwingerdblok in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch. Dit is tans een van slegs n handjievol gebottelde wyn van hierdie kultivar in Suid-Afrika. Die naam van hierdie wyn kom van die bergpad wat van die Universiteit van Stellenbosch se sportterrein by Coetzenburg al langs die Stellenbosch-berg tot by Lanzerac strek. Hierdie paadjie het oor die dekades heen ’n gewilde “oefenroete” vir sowel plaaslike inwoners as studente en ander buitelug- en sportentoesiaste geword. Aangesien Wynand self ’n ywerige sport- en buitelugentoesias is, is dit dus geen wonder dat die wyn BERGPAD gedoop is nie.

DOK is ’n malbec, ook afkomstig uit ’n enkelwingerdblok in die Jonkershoekvallei. Die woord DOK word dikwels in Afrikaans gebruik om na ’n dokter te verwys. DOK is egter ook die naam van die legendariese rugbyreus, Dr. Danie Craven, wat Lanzerac gereeld met sy hond, Bliksem, besoek het.

“Benewens die Afrikaans op die etikette, het die reeks ander unieke eienskappe, soos nie-tradisionele verpakking wat die subtiele elegansie en sofistikasie uitbeeld wat wynliefhebbers binne elke bottel sal vind,” sê Wynand.

Lanzerac het net 1 113 bottels BERGPAD en 1 033 bottels DOK gemaak, en 1 396 bottels van die PROF. Die PROF kos R310 per bottel, die DOK R280 en die BERGPAD R190 per bottel. Die wyne is slegs by die landgoed se proelokaal of aanlyn te koop.

Vir meer inligting, kontak 021 886 5641 of winesales@lanzerac.co.za.

EINDE