Steenberg sit ekstra vonkel in die feesseisoen

Kies jou "wapen"!

Kan daar ooit genoeg sjampanje wees? Nie volgens Dorothy Parker, die bekende Amerikaanse digter, skrywer en satirikus, nie. En die Steenberg-wynlandgoed in die Kaapse Skiereiland stem saam en daarom bied hulle aan liefhebbers van sjampanje (ook bekend in SA as MCC of Cap Classique) ’n reeks elegante vonkelwyne.

Die Steenberg 1682 Brut Chardonnay MCC bied sweempies bottergeure van brioche en vars groen appels, fyn borrels en ’n ryk kompleksiteit. Hierdie MCC is vars op die tong met tikkies suurlemoenskil wat goed afgerond word met sy geurige roosterbrood-karakter.

Steenberg se blosende 1682 Pinot Noir MCC is pure somer-verleiding. Met ’n pragtige pienk skynsel én geurige sweempies van aarbei-sorbet, framboos-meringue en sitrusbloeisels laat hierdie elegante MCC die koppe draai. Die 2016-oesjaarwyn is aanloklik met tikkies varsgebakte brioche en fyn, romerige borrels wat speel op die tong … tot die laaste druppel.

Albei hierdie Cap Classiques dra die ikoniese Steenberg-swaan op die bottel as gehalteversekering.

Vir diegene wat ‘n lekker ligte vonkelwyn verkies, is Steenberg se Sparkling Sauvignon Blanc die perfekte feestelike vonkel.  Hierdie vars, vrugtige vonkelwyn is in die kol én beslis nie allerdaags nie. Die vonkelwyn is lewendig en verfrissend met hope flair wat perfek by sy modieuse verpakking pas. Ontdek ‘n magdom geure van lietsjie, koejawel, pynappel, veselperske en groenvye met die eerste “ontmoeting”. Neem dan ‘n slukkie en ervaar hoe die bruisende pynappel en grenadella op die tong baljaar

Al drie die Steenberg-vonkelwyne is landwyd beskikbaar. Die Sparking Sauvignon Blanc kos R120 by die Steenberg-kelder in Constantia, die 1682 Chardonnay MCC verkoop teen R175, terwyl die Pinot Noir MCC 2016 ‘n kelderdeur-prys van R210 het.

Vir meer inligting, besoek www.steenbergfarm.com.

EINDE